Wat kan jy doen, en wat kan jy sê wat iemand sal help om so ʼn diagnose te verwerk?
Kry ʼn manier om ook jou eie emosies te verwerk
Om ʼn geliefde te kan ondersteun, is dit nodig om daadwerklik jou eie emosies te erken en jou gevoelens te verwerk. Herhaal so dikwels as wat nodig is hierdie proses om aan jou emosionele behoeftes aandag te gee. Op dié manier kan jy verhoed dat ʼn skuldgevoel ontstaan omdat jy ook swaarkry.
Plaas jouself in hul situasie
Jy kan verwag dat jou geliefde verskillende emosies sal ervaar – van hartseer tot woede en nog meer. Moenie dit persoonlik opneem terwyl hulle deur hierdie proses beweeg nie. Wat hulle deurmaak, kan ongelooflik moeilik wees om te peil.
Berei voor vir verandering
Dit is baie swaar om te sien hoe ons geliefdes ly, maar jy moet voorbereidings tref vir wat voorlê. Behandelings en operasies, na gelang van die tipe kanker, bring fisieke veranderings mee. Probeer om nie oor fisieke voorkoms te praat nie, en kry maniere om jou geliefde te laat verstaan dat jy hulle waardeer net soos hulle is. Bowenal is dit belangrik om hul besluite oor behandeling te ondersteun.
Maak planne
Moenie bang wees om planne te maak vir die toekoms nie. Dit is vir ʼn kankerpasiënt goed om ʼn doel voor oë te hê, en iets om na uit te sien.
Skep ruimte vir gesels of stilte
Soms kan ʼn lighartige gesprek of ʼn snaakse storie iemand se dag ophelder. Mense wat deur kankerbehandelings gaan, het soms nodig om oor iets anders as die siekte te praat. Moet egter nie ongemaklike onderwerpe of gevoelens vermy nie. Probeer altyd onthou – die belangrikste is nie wat jy sê nie, maar die feit dat jy daar is en bereid is om te luister.
Bied praktiese hulp aan
Vir baie mense is dit moeilik om te vra vir hulp. Help in elk geval. Doen dit net.
Wie kan jy bel?
Die KANSA-teleberadingsdiens bied vertroulike, kankerverwante telefoniese berading aan kankerpasiënte, versorgers en hul gesinne, en ouers of voogde van kinders wat kanker het. Kontakbesonderhede is maklik aanlyn verkrygbaar.
Sanlam Lewens is ‘n Gelisensieerde Lewensversekeraar, Verskaffer van Finansiële Dienste en Geregistreerde Kredietverskaffer (NCRCP43)

