Benewens mediese behandelings, bring kanker ʼn magdom onkoste mee wat dikwels uit die oog verloor word. Hierdie artikel gee ʼn kykie in ʼn paar van hierdie nie-behandelingsverwante koste om in gedagte te hou met vooruitbeplanning.
Die basiese koste
Hierdie koste word dikwels oor die hoof gesien. Die koste van vervoer na en vanaf dokters en behandelingsentrums kan oploop, en as pasiënte nog verder moet reis vir sorg, kan dit ook verblyfkoste beteken. Jy sal moontlik ook vir pruike moet begroot as die pasiënt dit wil dra, of ekstra klere as die pasiënt gewig verloor het of iets meer gemakliks nodig het. Verder is pasiënte lang tye tuis weens siekte, met die gevolg dat koste soos water, elektrisiteit en data waarskynlik sal styg.
Dieetaanpassings
Dit is ook goed om te begroot vir ʼn besoek aan ʼn dieetkundige oor die beste maaltydplan om te volg – veral wanneer die pasiënt chemoterapie ondergaan, wat naarheid en ʼn gebrek aan eetlus kan veroorsaak. Dit kan beteken dat kosuitgawes kan styg, na gelang van die voorgestelde dieet. Pasiënte wat te siek voel om self kos te maak, sal dit miskien oorweeg om maaltye te laat aflewer – ʼn diens wat die koste selfs nog verder laat styg.
Huisaanpassings en tuissorg
Dit kan duur wees om ʼn pasiënt se huis meer gemaklik te maak deur nodige aanpassings aan te bring soos om relings te installeer of seker te maak dat die slaapkamer en badkamer op die grondvloer is. Tuissorg kan ook nodig wees, wat verder tot die koste bydra.
Selfbefondsde mediese onkoste
Kanker is ʼn Voorgeskrewe Minimum Voordeel (VMV) vir mediese skemas, maar daar is dikwels ʼn groot tekort, wat deur gapingsdekking oorbrug kan word.
Wees egter bewus van die feit dat gapingsdekking ʼn algehele jaarlikse maksimum perk het. Dekking vir ernstige siektes betaal per gesondheidsgebeurtenis en nie per behandeling nie, wat kan help om mediese onkoste te dek wat uit jou eie sak betaal moet word.
Hoewel baie werkgewers mediese skema- en sekere versekeringsdekking verskaf, is dit uiters belangrik om alle koste in aanmerking te neem. Individue moet ʼn begrip hê van al die bykomende, nie-behandelingsverwante uitgawes en hoe spesifieke polisse kan help om hierdie koste te dek. ʼn Mens moet weet of jou maatskappy groeprisikodekking verskaf en of dit ook dekking vir kanker insluit. Indien nie, kan jy oorweeg om dekking in jou persoonlike hoedanigheid aan te gaan.
Sanlam Lewens is ‘n Gelisensieerde Lewensversekeraar, Verskaffer van Finansiële Dienste en Geregistreerde Kredietverskaffer (NCRCP43)