’n Pa se brief aan die Minister wat Suid-Afrika laat dink
Hierdie brief is nie deur ’n politikus of akademikus geskryf nie – maar deur ’n gewone Suid-Afrikaanse pa. Dis eerlik, dis skerp, en voel vir baie ouers ongemaklik akkuraat. Hy vra die vraag wat baie ouers stilweg dink, maar min hardop sê: Berei ons skole ons kinders regtig voor vir die regte lewe… of net vir eksamens?
Geagte Minister van Basiese Onderwys,
Ek skryf hierdie brief aan u as 'n besorgde burger, maar bowenal as 'n pa. Vandag vier ons fees in die huis. Ons twee seuns, Aidan en Edrich, het hul matriekuitslae ontvang en spog hulle met so paar onderskeidings. Ons as ouers is in die wolke - die vure brand hoog en die "ekstra wors" is reeds op die rooster.
Maar terwyl ek na die uitslae kyk, val iets my op wat my al pla vir 35 jaar: Die kinders wat die meeste feite kon onthou, het die meeste onderskeidings gekry. Dit laat my hardop dink.
Ons skoolstelsel voel soos 'n "floppy disk" in 'n wêreld van "cloud storage". Die inhoud wat my seuns vanjaar moes memoriseer - Shakespeare se gedigte en die wette van trigonometrie - is presies dieselfde werk wat ek 35 jaar gelede in my kop moes kry.
Ek het nog nooit weer nodig gehad om die hoek van 'n skuinssy te bereken nie (tensy dit help om 'n pizza regverdig te deel?).
Minister, kan ons nie dinge drasties verander nie?
Kan ons asseblief ophou om ou boeke soos Shakespeare stukkend te analiseer? (So terloops, my kind het tot nou toe nog nie sy voorgeskrewe boek gelees nie.) Dwing eerder elke matrikulant om hul eie boek te skryf. Dink net: Suid-Afrika sou elke jaar byna 'n miljoen nuwe boeke ryker wees.
En in plaas van Sin, Cos en Tan - kan ons hulle nie eerder leer hoe 'n regte Begroting en Belasting werk nie? Ek wed u meer kinders kan die Periodieke Tabel opsê as wat 'n belastingvorm kan invul. Leer hulle hoe om te belê, hoe om 'n huurkontrak te lees en hoe saamgestelde rente werk.
Stel u voor elke kind stap vandag uit die skool as 'n eienaar van hul eie klein besigheid - kompleet met 'n bankrekening en 'n webwerf wat hulle self gebou het.
TikTok-video's is tans 'n irritasie in die klas, maar dit kon 'n vak gewees het: "Digitale Bemarking". Hulle maak in elk geval die videos, leer hulle ten minste om geld daarmee te maak!
En wat van die Kunste? Kom ons verander Kuns na "Grafiese Ontwerp & Branding". Dit is oulik as jy 'n vrugtebak met houtskool kan teken, maar kan jy 'n logo ontwerp waarvoor 'n besigheid jou sal betaal? Dieselfde geld vir Musiek: herdoop dit na "Musiekproduksie & Besigheid". Hou op met blokfluit speel en leer kinders eerder hoe om klank te "mix", hoe om 'n "podcast" op te
neem, en die belangrikste: hoe royalties en kontrakte werk sodat hulle nie uitgebuit word nie.
Kom ons leer hulle huis-onderhoud. 'n Matrieksertifikaat help nie as jy nie 'n 3-punt prop kan bedraad, 'n pap wiel kan omruil of 'n lekkende kraan kan regmaak nie. Dis vaardighede wat beursies red. En terwyl ons besig is, maak bestuurslisensies en noodhulp deel van die skoolkurrikulum. Dan stap elke kind by die hek uit, wettig op die pad en gereed om 'n lewe te red. Verander Lewensoriëntering na "Die Regte Lewe"
En miskien moet ek die aap uit die mou laat voor ek groet: Die "Al Blockers" en "Checkers" wat julle so krampagtig probeer implementeer het, is ironies genoeg dieselfde Al-gereedskap wat die kinders gebruik het om daardie uitgediende boeke en kurrikulum op te som. En net vir die rekord: Na 12 lang jare op die skoolbanke, stap ons seuns vandag die wêreld in met meer kennis op sy foon as wat enige handboek kan bied - en dis alles net een "voice command" ver.
Ek is nie seker of ek nou beter voel nie... maar ek probeer ‘n verskil maak.
Vriendelike groete,
Albert Bredenham
P.S. Moenie te veel oor IK (IQ) worry nie... kom ons begin eerder oor EQ (Emosionele Intelligensie) worry, want in die regte lewe tel EQ baie meer.
💬 Wat dink JY?
🔹 Stem jy saam met hierdie pa?
🔹 Is ons skoolstelsel vasgevang in die verlede?
🔹 Wat sou jy verander?
👉 Los jou mening in die kommentaar. Hierdie gesprek raak elke ouer, elke onderwyser – en elke kind.