Drie bevorderingsposte is onlangs by Ligbron gevul. Me Magdeli Bosman en Mnr Frans Kalp is aangestel as adjunkhoofde en me Marinda Spannenberg is die nuwe Departementshoof Wiskunde.
Me Bosman is reeds vir jare een van Ligbron se gerekende onderwysers. Haar matriekuitslae is jaarliks van die beste in die provinsie. Sy is vir die afgelope agt jaar een van die provinsiale Wetenskap eksaminatore van vraestel 2. Vanaf 2023 is sy ook die provinsiale hoofnasiener van hierdie vraestel. Buiten haar uitstekende akademies rekord het sy haarself ook op verskeie ander gebiede bewys. Sy is betrokke by Ligbron se e-Learning Projek, is ‘n uitstekende netbalafrigter en doen reeds vir jare koshuisdiens.
Photo: Me Bosman
Mnr Kalp het 34 jaar ondervinding in die onderwyssektor waarvan 33 jaar by Ligbron is. Hy bied tot 2013 Tegnika Elektronika aan vir graad 10-12. Hy was vir 12 jaar ‘n provinsiale eksaminator en hoofnasiener in sy vak. Hy skuif hierna oor na die skool se IT department. Hy is reeds sedert 2013 hoof van die Ligbron e-Learning Projek, wat in samewerking met die Wiskunde en Wetenskap departemente lesse na skole landswyd uitsaai. Vir sy baanbrekerswerk in hierdie gebied het hy oor die jare verskeie internationale en nationale toekennings ontvang. Onder sy leiding het Ligbron ‘n skool geword wat bekend is as ‘n voorloper met tegnologie in hul klaskamers.
Photo: Mnr Kalp
Me Spannenberg is ‘n oud Liggie wat groot skoene gaan volstaan as Wiskunde Departementshoof. Sy sien uit na die uitdaging, aangesien sy haar Wiskunde tande in haar mentor, Me Lenie van Zyl, se klasse geslyp het. As leerder was sy Ligbron se top Wiskundekandidaat van gr 10 – 12. Sy het haar onderwysloopbaan by Ligbron begin, waarna sy en haar gesin hulle in die Kaap gevestig het. Sy het aan die begin van die jaar weer by Ligbron se personeel aangesluit. In haar 15 jaar as onderwyseres het sy ondervinding opgedoen in Wiskunde, Wiskundige Geletterdheid en Tegniese Wiskunde.
Photo: Me Spannenberg
Die Liggies is besonder trots dat al drie hierdie onderwysers uit hul eie geledere kom. Dit wys weereens dat die Ligbron onderwyserskorps van hoogstaande gehalte is.