LIGBRON MEISIES SPEEL KOOKWATER KRIEKET

Written on September 1, 2026
Eugene Smith


Ligbron se eerste meisieskrieketspan het hul onlangse T20 wedstryd teen Hoërskool Ermelo met 103 lopies gewen. Ligbron het eerste gekolf. Hulle behaal 253 lopies vir die verlies van twee paaltjies met ‘n lopie tempo van 12.7. Marli Vorster het geskitter agter die kolf. Sy slaan 63 lopies van 46 balle (wat nege 4’s insluit) nie uit nie. Kort op haar hakke is Kaleigh Botha met 82 lopies van 75 balle. Vorster het ook haar deel met die boulwerk gedoen. Sy neem 3 paaltjies vir net 11 lopies. Die Erries kon nie daarin slaag om dieselfde lopie tempo as die Liggies te handhaaf nie. Hulle teken 150 lopies vir die verlies van 4 paaltjies aan, wat beteken dat Ligbron die wedstryd gemaklik wen. Hierdie wedstryd was slegs een in ‘n reeks van oorwinnings vir die Liggies. Hulle het die vorige week hulle ligawedstryd teen Hoërskool Oosterland met 9 paaltjies gewen. Tydens die afgelope naweek het hulle aan Pongola Akademie se T10 Kriekettoernooi deelgeneem, waartydens hulle al hul wedstryde gewen het. Ligbron is trots op hierdie relatiewe jong span en sien met verwagting uit na die res van die seisoen.