.jpeg)
Die geskiedenis van Ermelo se strate
Tydens die bou van die Petdam is die munisipaliteit se ossespanne so besig gehou dat daar geen tyd was om aandag aan die strate te gee nie. In 1921 het die stadsvaders, tot groot ontsteltenis van die inwoners - wat gedink het dit is geldmors op 'n "wit olifant", 'n padlokomotief gekoop om gruis vir die strate aan te ry. Die padlokomotief is egter baie nuttig deur die stadsraad gebruik onder meer om ook rioolwater mee weg te ry. Later is nog twee lokomotiewe aangekoop. Hulle het soliede rubberbande om die ysterwiele gehad, wat gereeld in Johannesburg vervang moes word.
In 1932 is daar begin en Joubertstraat en die stasiepad was die eerste wat van 'n teeroppervlakte voorsien is. In 1941 is 'n gedeelte van Kerkstraat geteer, daarna het De Clecq-, Breytenbach-, en Smutstraat aan die beurt gekom. Die vinnige uitbreiding van die dorp het dit moeilik gemaak om met die teer van strate tred te hou, maar die agterstand is geleidelik ingehaal en teen 1975 was feitlik al die strate in beboude gebiede geteer.
Met die teer van strate kon ook voldoende voorsiening gemaak word vir die afvoer van stormwater. Met die vermeerdering van sake-ondernemings in die dorp en voertuie in die distrik het parkering 'n groter probleem geword. Die gevolg was dat Ermelo sy eerste parkeermeters gekry het toe 133 meters teen 'n koste van R9 350 geïnstalleer en op 2 Februarie 1965 in gebruik geneem is. In 1973 en 1974 is nog parkeermeters geïnstalleer en die getal meters in die sakesentrum met 464 vermeerder.
Met die bou van die groot kragstasies by Camden en Kriel en veral met die bou van Sasol 2 op Secunda, het die abnormale vragte wat deur Ermelo beweeg het, 'n probleem vir die verkeersowerhede geword. In die begroting van 1977 is daar dus voorsiening gemaak vir die bou van 'n verbypad vir swaarverkeer. Daar is ook beplan vir 'n verbypad aan die ooste- en noordekant van die dorp wat die nywerheidsgebied met Wesselton sou verbind.
Die vermeerdering van motors in die dorp en distrik het ook probleem met die beheer van verkeer teweeggebring. In 1946 het die stadsraad moontlikhede ondersoek om die talle ongelukke op die hoek van Burger- en De Jagerstraat en Burger- en Ennisstraat te verminder. Gedurende 1975 was daar 93 motorongelukke binne die munisipale gebied van Ermelo. Van 1950 tot die 1980's het die aantal verkeersbeamptes in die diens van die stadsraad van een tot twaalf vermeerder. (Bron: Ermelo 1880 to 1980, Dr. RTJ Lombard)
Foto: Joubertstraat wat verby die NG Moedergemeente loop
To read the rest of the article, please open it with the iNews app. You can download the app here: