Foto: Eljone van Niekerk en Henco Scheepers met Ligbron se leiers in die agtergrond
Ligbron se jaarlikse baadjieseremonie vir hul graad 8-leerders is onlangs weer met dieselfde kenmerkende styl en trots aangebied. Die verrigtinge is voorafgegaan deur die tradisionele groentjieskonsert, waartydens die graad 8’s die gehoor vermaak het met kreatiewe tonele waarin animasieflieks aan verskillende aspekte van die skool gekoppel is.
Foto: Oratile Msiza en Sisanda Mngonyama saam met Sunandi Struwig
Vanjaar se wenners was die graad 8 I, die klas van me. Lizmarie van Eeden, wat met die louere weggestap het. Onder leiding van hul leiers, Eljoné van Niekerk, Dewald Nel, Banele Mthombo en Na’eela Bhagalia, het hulle The Greatest Showman met groot sukses na die Verbruikerstudiesentrum gebring. Kort op hul hakke was graad 8 N van mnr. Nickey Janse van Rensburg, terwyl graad 8 O van juf Colleen Bellows die derde plek behaal het.
Die saal was stampvol ouers en familielede, vir wie die hoogtepunt van die aand die baadjieseremonie was. Ná weke van ’n strawwe inlywingsprogram word die graad 8-leerders tydens hierdie simboliese geleentheid amptelik as Liggies aanvaar. Hul splinternuwe skoolbaadjies word deur hul leiers vir hulle aangetrek en hul kerse word aangesteek – ’n teken dat hulle nou volwaardig deel is van die Ligbron-gemeenskap.
Mnr Gerhard Brand steek die kandelaar aan van waar die leiers en graad 8s se kerse aangesteek word
Die seremonie simboliseer trots, verbondenheid en verantwoordelikheid, en bevestig dat die nuwe Liggies hul skool tot die dag wat hulle vertrek, met eer en toewyding sal verteenwoordig. Ligbron verwelkom met trots nóg ’n groep uitnemende graad 8-leerders.


