Hoërskool Ermelo (EHS) bars van trots nadat die o/15A-hokkiespan vir die tweede agtereenvolgende jaar die gesogte Noordvaal A-toernooi gewen het.
Die span het sterk deur die toernooi gevaar en hul poelwedstryde met ’n 2-2-gelykopuitslag teen Hoërskool Menlopark, ’n 8-1-oorwinning oor Hoërskool Monument en ’n 6-0-sege teen Hoërskool Marais Viljoen afgesluit.
In die kwarteindronde het EHS 1-1 teen Hoërskool Nelspruit gespeel voordat hulle die 8-sekonde-stryd met 3-2 gewen het. Dieselfde scenario het in die halfeindronde teen Hoërskool Middelburg afgespeel, met EHS wat weer met 3-2 in die 8-sekonde-stryd geseëvier het. In die eindstryd het EHS Menlopark met 2-1 geklop om die beker te behou.
Die o/15A-span het verlede jaar ook onder leiding van me. Zita Jacob en me. Chloè Henstock met die titel weggestap. EHS se ander spanne het ook goed gevaar, met die o/14A-span wat 10de geëindig het, die o/16A-span vyfde en die eerste span agtste.
