Die opwinding was Saterdag tasbaar by Mankele in Nelspruit tydens die vyfde en finale uitdun van die TWK-skoleliga. Omdat dit die laaste wedren was, was elke posisie belangrik vir die verskil wat dit kon maak aan die finale punteleer vir sowel die ryers as die skole.
Foto: Matthew Warburg | Verskaf
Ligbron het uitstekend gevaar en beklee as skool ’n algehele vyfde plek in die liga. Die span spog ook met twee skitterende podiumplekke. Matthew Warburg het die junior seuns (o/17) se afdeling oorheers en die eerste plek op die podium verower. Kayla Londt het op haar beurt ’n silwer medalje ingepalm met ’n pragtige tweede plek in die sub-junior meisies (o/14) se wedren.
Foto: Kayla Londt | Verskaf
Buiten die dag se prestasies, het twee van Ligbron se top ryers weens hul uitstaande vertonings deur die loop van die seisoen hul Mpumalanga kleure verwerf. Ruben Krugel het algeheel tweede in die liga geëindig, terwyl Kayla Londt haar uitmuntende seisoen met ’n algehele derde plek in die liga afgesluit het.
Foto: Ruben Krugel | Verskaf
Tydens die komende Oktobervakansie vind die Suid-Afrikaanse Provinsiale Finaal plaas. Beide Krugel en Londt sal Mpumalanga daar verteenwoordig.



